• Volg Ons:
 

Baie Welkom!

Nuutste album is "Sit Kêrels"

‘N ALBUM  VOL STORIES, HARTSMUSIEK EN HUMOR.

Sy negende ateljee-vrystelling, bou voort op die wenresep waarvoor hy bekendheid verwerf het, en is ’n album vol stories, hartsmusiek en humor. “SIT KÊRELS is lekker lywig, met ’n paar snitte meer as gewoonlik. Dit kombineer verskeie genres, soos Rock ’n Roll en Blues, maar daar is ’n Folk-aanslag waarvan ek baie hou,” vertel die sanger. “Ou vriende is mense wat my laat tuis voel en dit is ook die sentiment wat ek met luisteraars wil deel wanneer hulle na my musiek luister.”

Alhoewel hy nie gunstelinge wil uitsonder nie, erken hy dat Die Here Se Koms besonders is en hom na aan die hart lê, en dat die liedjie wat hy vir sy oorlede ma geskryf het, hom nostalgies laat. Hy meen ook dat Voëlverskrikker, en sy duet saam met Stella, Ek Is Ryk, die potensiaal het om treffers te wees. Laasgenoemde is pas vrygestel en speel reeds op al wat ’n radiostasie is. Dit is ’n volwasse kontemporêre snit uit die sangeres se pen, en gaan oor iemand wat moedeloos is oor die lewe en omstandighede, maar wanneer die persoon saam met ’n geliefde is, daal die besef neer dat die liefde ’n mens skatryk maak - en dit bring vrede. “Daar is vir my min dinge so lekker as om saam met iemand te werk met uitsonderlike hoendervleis-mooi talent soos Stella,” sê hy.

Na agt suksesvolle albums (Memories In ’n Menthol, Springbok Radio, Ben Bicycle, Storm van Liefde, Man van Stof, Want jy is Boer, ’n Tas vol Cash en Patatas en Pyptabak), waarvan vier goue en drie platinumverkoopstatus bereik het, en verskeie radiotreffers soos Gaan Sê Vir die Angels, ’n Man Soos My Pa, Draadloos Dae en vele meer, het hy een van die gewildste sangers in die land geword. Adam het ook al opgetree by van die grootste konserte en feeste in die land, waaronder Huisgenoot Skouspel, en die verhoog met van die beste plaaslike talent gedeel. 

Benewens sy sangloopbaan, is hy besig om sy vlerke te sprei as televisiepersoonlikheid, en was hy al aanbieder van twee groot kykNET-programme, Woema en Wild en Wragtig. Hy is ook een van die hoofkarakters in die fliek Spook van Uniondale, saam met André Swartz, Ivan Zimmermann en Tobie Cronjé, en sy enkelsnit, So Verlief, was deel van die fliek, Vrou Soek Boer, se klankbaan. As gekwalifiseerde wildbewaarder, stel Adam baie belang in wildteling en geniet hy die natuur en boogjag.

SIT KÊRELS is beslis ’n moet vir elke musiekliefhebber se versameling, ongeag of jou voorkeur is vir kuier of ernstig wees. Die kombinasie van betekenisvolle lirieke, besonderse melodieë en sy uitsonderlike stem, is net die regte bestanddele vir ’n album wat oor tien jaar steeds ’n gunsteling gaan wees. Adam Tas het die ongelooflike vermoë om mense met sy musiek saam te snoer, sy emosies eerstehands te laat ervaar en 'n gevoel van rustigheid te skep... soos net ’n goeie ou vriend, met wie jy beoog om nog ’n lang pad te stap, kan!  

Die album is nou landswyd beskikbaar.

 

Koop Adam Tas se nuuste album 'Sit Kêrels' op iTunes

Aflaaibare Foto's

  • Volg Ons:
Adamtas.co.za © 2014
Webwerf ontwerp en onderhou deur Marlise Pieters.